Katima se inwoners is siek en sat

Inwoners en besigheidseienaars van Katima Mulilo is keelvol vir swak dienslewering op die dorp. Die dorp se paaie val uitmekaar uit en slaggate kom oral voor. Inwoners vra net dat owerhede die slaggate met sand vul sodat hulle die paaie kan gebruik. Daar is ook vanoggend geen water nie. Die hoof uitvoerende beampte van die dorpsraad Raphael Liswaniso het onlangs gesê dat die regering hulle 14 miljoen Namibiese dollar skuld vir gratis waterverskaffing tydens die pandemie. Die raad het aan die begin van die pandemie 11 miljoen dollar aan NamWater in onbetaalde water geskuld. In 2018 het Katima die nuus gehaal oor sub-standaarde voorafbetaalde watermeters wat hy uit China bekom het en die dorpsraad sou 9 miljoen dollar verdien het uit die verkoop daarvan, met ‘n verkoopsprys van amper 100 persent wins. Die Namibiese Standaarde Instituut het toe die raad opdrag gegee om nie die meters te installeer nie omdat hulle nie voldoen het aan plaaslike standaarde nie. Daar is ook 250 miljoen dollar nodig om riooluitdagings hok te slaan. Die dorp sukkel reeds jare met verstoppings en gebarste pype wat hy toeskryf aan ou infrastruktuur wat eenvoudig nooit opgeknap is nie.