Karas-polisie kry weer dwelms…

Die Karas-polisie het nog ‘n dwelmvonds bevestig. Die streek se koördineerder vir misdaad ondersoeke Hoofinspekteur Douglas Hanse sê ‘n 39-jarige vrou is saam met twee mans, 29 en 47 jaar oud tussen Ariamsvlei en Karasburg op die B1 gearresteer vir die besit van net meer as 3,5 kilogram dagga. Die straatwaarde word op 177 000 dollar beraam. Lede van die publiek het die polisie ingelig en Hanse sê toe hulle die voertuig wou aftrek toe gooi die verdagtes ‘n groot swart sak uit. Hulle het probeer om weg te jaag maar is gevang. Die drie sal vandag in die landdroshof op Karasburg verskyn. Die verdagte wat amper 60 000 Mandrax-tablette met ‘n waarde van 8,6 miljoen dollar in sy vragmotor gehad het en Dinsdag by die Ariamsvlei grenspos gearresteer is, verskyn ook vandag.