Jongste oor hepatitis-E in Namibië

Die Namibiese gesondheidsministerie het die jongste syfers in verband met hepatitis-E bekend gemaak. Gedurende die laaste agt weke, wat tot en met 15 Augustus waargeneem is, is tien nuwe gevalle regoor die land bevestig met nege in Khomas en een in Erongo. ‘n Epidemie is op 14 Desember 2017 verklaar en teen April 2018, is die siekte in 13 streke, behalwe Zambezi, bevestig. Teen 15 Augustus vanjaar was daar 8 090 gevalle met 61,9 persent wat in Khomas voorgekom het. Net meer as 71 persent van die gevalle is in die ouderdomsgroep van 20 tot 39 jaar. Daar was tot op hede, 66 sterfgevalle. Hepatitis-E word veroorsaak deur swak sanitasie en blootstelling tot rou riool.