Jeugliga-lid sê daar is ‘n tender-kartel in Kavango-Oos

Die Swapo-jeugliga in die Kavango-Oos-streek sê een van die redes waarom die streek arm is, is te danke aan fondse wat elke jaar deur die regering aan die streek gegee word en wat onregverdig verdeel word en veral die jeug benadeel. Anselm Marungu, streeksekretaris van die liga, sê die regering gee elke finansiële jaar geld aan elke streek vir ontwikkeling maar die streeksowerhede het ander planne met die fondse. Marungu meen dit is nie maklik vir ‘n jongmens om ‘n tender te kry nie, want dit wil voorkom asof daar ‘n kartel is waarin tenders uitgedeel word. Volgens die Namibië Statistiekagentskap is die Kavango-Oos-streek se jeugwerkloosheidsyfer op 62,5 persent. Marungu het ‘n beroep op die Kavango-Oos-streekraad gedoen om maatskappye wat tenders kry, ‘n memorandum van verstandhouding met die jeugforumleierskap te laat onderteken om die jeug in diens te neem.