Italië, Libië onderteken gasooreenkoms

Afrika se energiebronne word al hoe meer aanloklik vir Europa, veral met die oorlog in die Oekraïne en die gepaardgaande sanksies teen Russiese olie en gas. Die Italiaanse energiemaatskappy Eni, en Libië se Nasionale Oliekorporasie, het ‘n gasproduksieooreenkoms van 8 miljard Amerikaanse dollar onderteken wat daarop gemik is om energievoorsiening aan Europa te bevorder ten spyte van die onsekerheid en politieke chaos in die Noord-Afrikaanse land. Die ooreenkoms, wat tydens ‘n besoek aan Tripoli deur Italië se eerste minister Giorgia Meloni onderteken is, het ten doel om gasproduksie vir die Libiese binnelandse mark sowel as uitvoere te verhoog deur die ontwikkeling van twee buitelandse gasvelde. Produksie sal in 2026 begin en ‘n plato van 21,2 miljoen kubieke meter per dag bereik, het Eni in ‘n verklaring gesê.