Invoer en herverkoop van witrenosters het ministerie warm onder die kraag

Die omgewingsministerie sê hy het kennis geneem van ‘n kommerwekkende tendens waar Namibies geregistreerde wildhandelaars witrenosters op die hoef vanuit Suid-Afrika invoer om weer uit te voer na lande buite hul natuurlike verspreidingsgebied. Die ministerie waarsku diegene om nie betrokke te raak by sulke transaksies nie, aangesien dit nie ondersteun word binne die bepalings van die CITES-konvensie nie. Volgens woordvoerder Romeo Muyunda sal die ministerie nie toelaat dat Namibië gebruik word om die Suid-Afrikaanse wette te omseil nie. Die invoer van witrenosters uit Suid-Afrika kan dalk ook Namibiese handelaars benadeel ingeval hulle witrenosters van Namibiese oorsprong wil uitvoer. Op die lang termyn sal dit nadelig wees vir Namibiese bewaring aangesien dit kan lei tot internasionale handelsopskortings vir Namibië weens nie-nakoming met die bepalings van die CITES-konvensie.