Interpol staan Nampol by in Oman-ondersoek

Plaaslike media berig dat Interpol die Namibiese polisie bystaan in die opsporing van 26 Namibiërs wat in ‘n saak van mensehandel na Oman geneem is. Die groep is na bewering groot poste in die Midde-Ooste aangebied en moes groot bedrae geld betaal. Hulle is na Suid-Afrika vervoer en van daar na Oman. Volgens wat berig word is hul paspoorte en selfone in daardie land gekonfiskeer en hulle is uiters swak werk aangebied met ‘n maandelikse salaris van 3 000 Namibiese dollar. Die Nampol-hoof, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga sê die saak stem ooreen met georganiseerde misdaad en Interpol sal nou toetree om die mense op te spoor.