Interpol soek Angolese oudpresident se miljardêr-dogter

Die dogter van die voormalige Angolese President José Eduardo dos Santos, sê sy moet nog in kennis gestel word van ‘n internasionale lasbrief vir inhegtenisname wat glo deur die wêreldwye polisie-agentskap Interpol uitgereik is. ‘n Verteenwoordiger van die miljardêr sakevrou, Isabel dos Santos, sê haar regsverteenwoordigers kon nie enige verwysing na ‘n lasbrief op Interpol se databasis opspoor nie, Portugese en Angolese media berig die 49-jarige Dos Santos word gesoek vir beweerde oortredings wat bedrog van 3,58 miljard Namibiese dollar insluit, asook geldwassery en -verduistering, en die misbruik van invloed. Sy het herhaaldelik enige misdrywe ontken. Indien sy skuldig bevind word, staar sy ‘n maksimum van 12 jaar tronkstraf in die gesig. Dit is nie bekend waar Dos Santos haarself tans bevind nie, maar sy word gereeld in Portugal, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde Arabiese Emirate gesien.