Informele sektor onder die loep by handelsministerie

Informele handel bly ‘n kritieke deel van ekonomiese aktiwiteite in Namibië, tog is dit een van die mees kwesbare sektore as gevolg van bedryfsonstabiliteit en ‘n tekort aan ondersteuning. Dit is ook ‘n groot bron van werk en bestaan vir baie Namibiërs, van wie die meeste vroue is. Dit is die standpunt van die handelsminister Lucia Iipumbu. Die sektor het in 2018, 30 persent van die Namibiese ekonomie bygedra. Haar ministerie het operasionele riglyne vir die gedragskode vir die informele ekonomie saamgestel. Sy sê dit is uiters belangrik om so vinnig as moontlik die grootte van die sektor, sy bydraes en samestelling in die land te bepaal. Sy voeg by dat dit belangrik is om leemtes te identifiseer met die doel om die oorgang van die informele sektor na die hoofstroom ekonomie te fasiliteer.