Inflasie in Junie bereik vyf-jaar hoogtepunt

Die Namibiese Statistieke Agentskap sê inflasie in Junie is op 6 persent gemeet teenoor 5,4 persent wat in Mei aangeteken is en 4,1 persent wat in Junie verlede jaar gemeet is. Junie se syfer is die hoogste sedert Junie 2017. Streeksgewys het Khomas die hoogste inflasie met 6,7 persent aangeteken met die res van die land op 5,6 persent. Vervoer en voedsel het die meeste tot die syfer bygedra op 2,7 persentasiepunte vir vervoer, en 1,3 persentasiepunte vir voedsel. Beide is hoër as wat in Mei aangeteken is. Kenners meen daar sal baie min verligting die jaar vir verbruikers wees en die uitdagings sal voortduur.