Ilyushin is steeds op HKIA

Die Ilyusin-76 van die Sapsan-redery staan steeds op Hosea Kutako Internasionale Lughawe. Dit is volgens FlightRader se webtuiste waar vlugplanne bekom kan word. Die olifante, volgens die enigste inligting wat bekom kon word, sou gisteraand gelaai word, blykbaar deur die bekende wildsveearts, dr. HO Reuter. Die proses sal natuurlik ‘n geruime tyd duur. Die vragvliegtuig het op 1 Maart om 11:33 Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate verlaat en daardie aand om 10:24 by Hosea Kutako aangekom. Daar word vermoed dat die olifante na ‘n dieretuin in die Verenigde Arabiese Emirate vervoer word. Hulle is deur Gerrie Odendaal, ‘n beroepsjagter oos van Gobabis aangekoop. Nie Odendaal of die omgewingsministerie het enigiets daaroor te sê nie maar, sou die diere wel in ‘n dieretuin beland, dan het Namibië sy verbintenis tot Cites regulasies verbreek.