Huldeblyke stroom in vir wyle FW de Klerk

Suid-Afrikaanse oudpresident FW de Klerk, wat vanoggend op 85-jarige ouderdom by sy huis in Kaapstad aan kanker gesterf het, word beskryf as ‘n puik leier wat ‘n reuse-rol gespeel het in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie sonder ‘n bloedbad. De Klerk het in 1989 president geword en die volgende jaar aangekondig sy regering ontban organisasies soos die ANC en laat Nelson Mandela onvoorwaardelik vry. Die Afrikanerbond het sy meegevoel betuig met De Klerk se familie en vriende. Die organisasie se hoofsekretaris, Jan Bosman, sê hulle vereer hom vir sy egtheid en beginselvastheid, en dat hy die regte besluite geneem het.