Howe wil nie vir Amushelelo uitlos nie

Dit wil voorkom asof die howe eenvoudig nie vir Michael Amushelelo wil uitlos nie. Woensdag, terwyl hy en Dimbulukeni Nauyoma in die Katutura-landdroshof nog formeel vir borg aansoek gedoen het, het Bank Windhoek ‘n aangepaste eis vir die beslaglegging van sy Mercedes AMG by die hoërhof ingedien. Vandag het die China Henan International Cooperation Group, wat konstruksie op die roete tussen Keetmanshoop en Mariental doen, ‘n dringende aansoek voor die adjunk-regterpresident Hosea Angula om hom, die Namibia Economic Freedom Fighters en die Manwu-vakbond te verbied om verder te gaan met wat beskryf word as ‘n onwettige staking. Ook vandag, voor dieselfde regter, gaan sy geldwassery en korrupsiesaak voort saam met sy medebeskuldigde Gregory Cloete. En so ook die borgaansoek in die landdroshof.