Houtskoolproduksie kan nie staak nie

Na die talle veldbrande wat vanaf Mei vanjaar landswyd ervaar is, is daar beroepe op die houtskoolbedryf gedoen om alle produksie tussen Mei en Oktober te staak. Die produsente word in meeste gevalle die skuld gegee vir veldbrande. Die Houtskool Produsente Vereniging het ‘n verklaring uitgereik in die verband en sê dit sal katastrofies vir die bedryf wees. Meer as 10 000 mense werk in die bedryf met meer as 1 400 vroue wat in die fabrieke werk. Die vereniging sê produsente is opgelei in die veilige produksie van houtskool. Maar, brandpaaie en bane word in talle gevalle nie onderhou nie wat dit moeilik maak om brande te keer of om beheer uit te oefen. Intussen het die vereniging gesê produsente moet eerder die eendag-brand metode in die volgende paar weke toepas wat die waarskynlikheid van vure drasties verminder. Op die oomblik lui die regulasies dat houtskool vanaf 1 Mei tot 31 Desember net in een sentrale gebied geproduseer moet word met ‘n 15-meter radius om die kamp wat skoongemaak moet wees.