Hoofstad se suurstoftekorte vir eers opgelos

Suurstoftekorte is volgens die burgemeester van Windhoek Job Amupanda aangespreek. Amupanda sê hy het met owerhede van die ministerie van gesondheid ontmoet en die situasie in die hoofstad het genormaliseer. Die militêre hospitaal is ook operasioneel. Die ministerie se uitvoerende direkteur Ben Nangombe het vroeër gesê dat hulle die weermag om hulp gevra het as gevolg van die hoë getalle pasiënte wat gehospitaliseer word. Die minister, dr. Kalumbi Shangula het ook aan media gesê dat pasiënte sieker by mediese fasiliteite aankom en vinniger verswak. Dit is nog nie bekend of die sogenaamde Indiese variant in die land teenwoordig is nie. Shangula sê toetse word nog uitgevoer.