Hondsdolheid uitbreking in die Kaap

Geen verdere gevalle van hondsdolheid is in Khayelitsha, Kaapstad, aangemeld sedert twee gevalle verlede week aangeteken is nie, en 900 honde en 10 katte is intussen ingeënt. ‘n Woordvoerder van die Wes-Kaapse Landboudepartement, Daniel Johnson, sê mense en diere wat in kontak was met die twee gevalle, is opgespoor en opvolgstappe is gedoen. Amptenare van die Veeartsenydiens en dierewelsynorganisasies het verlede week van deur tot deur gegaan om alle honde en katte binne ‘n radius van een kilometer van die bevestigde gevalle teen hondsdolheid in te ent.