Hoenderinvoere: geen nuwe rolspelers vir nou toegelaat nie

Die Namibiese ministerie van handel het te kenne gegee dat die hersiening van standaard prosedures vir die invoer van hoenderprodukte reeds op 30 Augustus verlede jaar gesluit het vir openbare insette. Lede van die publiek word dus ingelig dat geen nuwe aansoekers wat die invoerbedryf wil betree op die oomblik bygestaan kan word nie. Invoerders moet by die ministerie registreer maar, omdat die protokolle en toelaatbare invoere op die oomblik hersien word, is die proses eers opgehef. Die jongste invoerkwotas laat 1 200 metrieke ton maandeliks toe, afwaarts aangepas van 1 500 . Dit is in Februarie 2020 in die staatskoerant gepubliseer na die destydse minister van handel Tjekero Tweya insette van die bedryf ontvang het.