Hitler se horlosie verkoop vir US$1,1m

‘n Horlosie wat vermoedelik aan Adolf Hitler behoort het, is vir 1,1 miljoen Amerikaanse dollar of, 17,2 miljoen Namibiese dollar, op ‘n Amerikaanse veiling verkoop. Die Huber-horlosie, wat ‘n swastika, Nazi-arend en die voorletters AH dra, is deur ‘n anonieme bieër gekoop. ’n Ope brief wat deur 34 Joodse leiers onderteken is, het ’n beroep op die Maryland-gebaseerde veilingshuis, Alexander Historical Auctions, gedoen om nie die polshorlosie te verkoop nie. Maar die veilingshuis het aan Duitse media gesê sy doel was om geskiedenis te bewaar. Die katalogusbeskrywing vir die horlosie sê dit is aan die Nazi-leier gegee as ‘n verjaardaggeskenk in 1933, die jaar toe hy as kanselier van Duitsland aangewys is. Daar word berig dat daar op die horlosie as ‘oorlogsbuit’ beslag gelê is toe ongeveer 30 Franse soldate Hitler se Berghof-toevlugsoord in die berge van Beiere bestorm het. Dit is toe herverkoop en deur die geslagte oorgedra.