Hentiesbaai-munisipaliteit kry bloedneus in hof

Die munisipale raad van Hentiesbaai en die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, het bloedneus in die Windhoekse hoërhof gekry. ‘n Huiseienaar Hendrik Kruger het die hoërhof-aansoek gebring nadat die munisipaliteit verlede jaar ‘n toegangspad vanaf Crystalstraat reg voor sy huis vir voertuie oopgestel het. Regter Kobus Miller het in die guns van Kruger beslis. Regter Miller ook die munisipale raad betig omdat hulle goedsmoeds landswette oortree en onwettige regulasies met die goedkeuring van die minister in die Staatskoerant laat publiseer. Dit is gedoen ondanks die bepalings van die soneringskema en regulasies waarin alle voertuigverkeer op die strandgebied vanaf Crystalstraat tot by die ou Solitude Bar verbied word.