Hector Pieterson is gesig van Jeugdag

Dis Jeugdag in Suid-Afrika. Die studente-opstand van 45 jaar gelede waartydens die jong Hector Pieterson wêreldwyd die gesig van die opstande geword het, word vandag weer herdenk. Die 13-jarige seun van Soweto is op hierdie dag in Junie 1976 deur die polisie doodgeskiet. Swart kinders het betoog teen ‘n taalbeleid waarvolgens kinders in Afrikaans en Engels moes skoolgaan. Sam Nzima se foto van ‘n jong man wat die noodlottig gewonde Hector dra met Hector se suster wat langs hom hardloop, het destyds wêreldwyd opslae gemaak. Jeugdag is in 1994 as ‘n openbare vakansiedag in Suid-Afrika verklaar. Plaaslik word die Dag van die Afrika-kind vandag herdenk.