Harnas sal hand en tand terugbaklei

Die eienaar van die Harnas-stigting, Marieta van der Merwe, het in ‘n mediaverklaring gesê dat sy die Namibiese omgewingsministerie met hand en tand in die hof sal beveg nadat sy daarvan aangekla is dat sy tien leeus sonder permitte op Harnas aanhou. Sy het gesê beamptes van die beskermde hulpbronne-departement van die ministerie het Harnas Sondag besoek onder die vaandel dat hulle foto’s vir ‘n voortgaande ondersoek teen Harnas neem. Van der Merwe is nie in hegtenis geneem nie, maar het soos onderneem met die beamptes Maandagoggend by die Otjinene-landdroshof aangemeld en verskyn. Sy het die middag vyf-uur borgtog van 40 000 Namibiese dollar betaal.