Handelaars vies oor verskuiwing vir Ongos-hoofpad

Informele handelaars by die sogenaamde Havana-vierrigtingstop is haaks met Stad Windhoek se owerhede nadat hulle verskuif is om plek te maak vir ontwikkeling. Plaaslike media berig dat hulle op die roete van die behuisingsontwikkeling, die Ongos-vallei se hoofpad handel dryf. Die handelaars sê die plek waarnatoe hulle verskuif is, is klein en beknop en sommige handelaars word ook deur owerhede voorgetrek. Volgens Stad Windhoek sal hulle gehoor gee aan die klagtes en woordvoerder Harold Akwenye sê hy is seker dit is alles net ‘n misverstand. Informele handel is die enigste bron van inkomste vir ‘n skokkende 56 persent van die Namibiese werksmag en die sektor groei jaarliks met 5 persent as gevolg van ‘n tekort aan formele werksgeleenthede. Die mees onlangse syfers toon dat die sektor tot 30 persent van die plaaslike ekonomie dryf.