Guillermo appelleer vandag vir verblyfreg

Die Namibian Equal Rights Movement doen ‘n beroep op lede van die publiek om vanoggend saam te trek by die hooggeregshof in die hoofstad ter ondersteuning van Guillermo Delgado, die eggenoot van die Namibiër Philip Lühl. Delgado appelleer vandag teen ‘n beslissing in die hoërhof om hom verblyfreg te weier omdat sy huwelik aan ‘n Namibiese man nie erken word nie. Delgado werk reeds sedert 2011 in Namibië maar ‘n hernuwing op sy werkspermit is aan die einde van 2019 geweier. Verblyfreg word aan buitelanders wat met Namibiese burgers getroud is, as standaardpraktyk toegeken. Die Delgado-Lühl-egpaar het die afgelope tyd die nuus gehaal met twee ander hofaansoeke wat burgerskap vir hulle seuntjie, en toe tweelingdogters aanvra. Die kinders is deur middel van ‘n surrogaat gebore.