Groot veldbrand noordwes van Windhoek

‘n Uiters groot veldbrand woed net noordwes van die hoofstad. Teen net voor tien-uur gisteraand was dit reeds meer as ‘n kilometer breed en boere in en om die gebied het gespartel oor voorbrande te maak om dit onder beheer te kry. Teen vanoggend vier-uur was die brand sigbaar vanaf die A1-hoofweg van die Teufelsbach-rivier tot net voor die Otjihavera-rivier. Dit is nie bekend presies wanneer dit ontstaan het nie maar dit was reeds Maandagmiddag sigbaar. Die jongste berigte vanaf die toneel lui dat die brand steeds etlike kilometers lank is en dat bestryders sukses gehad het met ‘n voorbrand aan die westelike gedeelte.