Groot uitdagings met ondersoek na Chinese vlugramp

Die Chinese burgerlike lugvaartadministrasie  sê die ondersoek na die China Eastern Airlines-ongeluk gaan moeilik wees weens die omvattende skade aan die vliegtuig. Die Boeing-vliegtuig met 132 mense aan boord het Maandag in die suide van China neergestort. Die administrasie sê ‘n voorlopige ondersoek toon die vlieëniers het na bewering versuim om op verskeie oproepe van Chinese lugverkeerbeheer te reageer nadat die vliegtuig in ‘n dodelike neusduik beland het. Die administrasie vra vir ‘n twee weke lange veiligheidsinspeksie van die hele bedryf, terwyl die ondersoek na moontlike veiligheidsgevare in burgerlugvaart verskerp word.