Groot makietie vir vigsdag op Gobabis

Dit wil voorkom asof groot makietie gemaak gaan word by die Wêreld Vigsdag-herdenkings op 1 Desember op Gobabis. Die Namibiese sportministerie vra kwotasies aan vir 60 BBP-etes en 250 etes vir lede van die publiek. Vir die gepeupel vra die ministerie vir ‘n middagete met ‘n gebotterde brötchen, ‘n 300-gram lamtjop, 200g boerewors, ‘n koeldrank en ‘n appel of ‘n lemoen. Die BBP’s se bord is effe groter. Een hoenderboudjie, twee frikkadelle, twee viennas, twee stukkies biefstuk, een kolwyntjie en twee koeksisters. Daar is ook ‘n opsie van vrugtesap of koeldrank en dan ook ‘n bottel water. Sestig papierborde met vurke en 100 servette word ook aangevra. Die geleentheid vind by die Legare-stadion op die dorp plaas.