Groot kommer oor Zaporizhzhia-kernaanleg

Die ministers van Buitelandse Sake van die Groep van Sewe ekonomiese moondhede het ‘n beroep op Rusland gedoen om onmiddellik volle beheer oor die Zaporizhzhia-kernkragsentrale aan die Oekraïne terug te gee. Die aanleg, Europa se grootste, is reeds verskeie kere met bomme bestook. Die G7-ministers van Buitelandse Sake het gewaarsku Rusland se optrede verhoog die risiko van ‘n kerninsident aansienlik, en stel die mense van Oekraïne, sy buurstate en die wêreld in gevaar. Hulle voeg by dis Rusland se voortgesette oorheersing van die kernkragaanleg wat die streek in gevaar stel. Die Oekraïne sê drie van die koppelaars wat krag na die Oekraïne verskaf is reeds afgeskakel en beskuldig Rusland daarvan dat hy net die Krim met krag wil voorsien vanaf die aanleg.