Groenskemas moet weer produseer om inflasie te beperk – ekonoom

Met voedselpryse wat drasties toeneem, behoort die Namibiese regering alles in die stryd te werp om groenskemas weer op die been te bring. Dit is die mening van die Unam-ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu. Sy mening word ondersteun deur onlangse kommentaar deur die Namibiese Landbou-unie wat sê die plaaslike koringoes word op 30 000 ton geskat, wat 50 persent van die land se behoefte verteenwoordig. Die NLU sê wit mielies en koring het beide ‘n goeie verhoging in nasionale produksie beleef en dit ten spyte van die feit dat die meeste groen skemas óf nie volskaals óf glad nie produseer het nie. Dit beteken, indien die groenskemas dalk wel produktief kan word, Namibië in die grootste gedeelte van sy eie behoeftes kan voorsien. Kakujaha-Matundu sê graanpryse sal nie binnekort weer daal nie en lae-inkomstegroepe sal die meeste geraak word. Hy herinner daaraan dat voedselpryse op makro-ekonomiese vlak die potensiaal het om inflasie op te stoot, wat die Bank van Namibië op sy beurt kan dwing om die repokoers te verhoog met ‘n marge wat nie net sal seermaak nie maar ook ekonomiese groei kan vertraag.