Groen Waterstofprogram het ‘n jaar vol planne

Die Namibië Groen Waterstofprogram het ‘n reeks baanbreker-ontwikkelings aangekondig. Namibia Hydrogen Fund Managers, ‘n filiaal van die program, gaan ‘n toekenning van net minder as 1 miljoen Amerikaanse dollar van die USAID Southern Africa Mobilizing Investment-projek kry. Hierdie historiese toekenning is die grootste nog buite Suid-Afrika, en sal die SDG Namibia One Fund versterk. Die fonds het ten doel om groen energie, toegang tot water, werkskepping, vermindering van emissies en volhoubare ekonomiese groei te kataliseer, met ‘n totale fondswaarde van 1,15 miljard dollar. ‘n Groen Industrialisasie Bloudruk, wat ‘n uiteensetting van sleutel infrastruktuur-ontwikkeling en nuwe nywerheidsklusters gee, sal volgende maand aan die kabinet voorgelê word. Verder gaan opdrag gegee word vir ‘n omvattende Strategiese Omgewings- en Maatskaplike Evaluering vir die drie beoogde groen waterstofvalleie. Dit sal oor 12 tot 18 maande strek.