GRN wil N$210m op motors bestee, moratorium seker vergete

Dit blyk asof die moratorium op voertuigaankope deur die regering, wat met groot lof ontvang is en sou van krag gewees het tot 2025, vergete is. President Hage Geingob het met die aankoms van Covid die moratorium ingestel maar nou beplan die regering om sowat 210 miljoen Namibiese dollar te bestee op nuwe voertuie. Die stap is blykbaar vir beter bedryfsdoeltreffendheid. Volgens wat berig word het Wilson Shikoto, woordvoerder van die ministerie van finansies en openbare ondernemings, gesê dat die verbod nie van toepassing is op voertuie wat ontwerp is om staatsdienslewering te bespoedig nie. Dit sluit ambulanse, polisievoertuie en meer in. Die regering het in die 2014-2015 boekjaar meer as ‘n miljard dollar op voertuie bestee wat oor die volgende jare gedaal het toe Calle Schlettwein, voormalige minister van finansies, die regering se voertuigbesteding ingeperk het. Daar word berig dat die aankondiging van nuwe voertuie goeie nuus is vir die plaaslike voertuigmark.