GRN gesels met Indië vir goedkoper brandstof

Daar word berig dat die Namibiese regering in samesprekings met die Indiese regering is om goedkoper brandstof by die voorste Asiatiese petrol- en dieseluitvoerder te verkry. Die nuus kom na die regering die afgelope paar maande gedwing is om na ‘n alternatiewe oplossing vir hoë brandstofpryse te soek, nadat die lynministerie in Mei brandstofheffing-verligtingsmaatreëls vir drie maande in werking gestel het om plaaslike verbruikers by te staan. Die direkteur van die Energiefonds in die ministerie van myne en energie, Saima Neke, het aan plaaslike media bevestig dat die departement verskeie alternatiewe ondersoek om die land se stygende brandstofpryse te stabiliseer. Amptenare van die Indiese Hoë Kommissaris in Windhoek het ook die samesprekings bevestig. Namibië het vir die 2021-2022 boekjaar petroleumprodukte ter waarde van 3,5 miljard Namibiese dollar vanaf Indië ingevoer. Daar word in spanning afgewag oor of die opheffing van besparingsmaatreëls gaan plaasvind en of dit verleng sal word. Verbruikers weet ook nog nie wat die brandstofprys vir Augustus sal wees nie. Dit tree volgende week Woensdag in werking.