Griek vas met skildery van Pablo Picasso

‘n Griekse man is in hegtenis geneem nadat ‘n skildery deur Pablo Picasso aan die buitewyke van Athene in ‘n kloof weggesteek gevind is. Die Vrouekop en twee ander skilderye is nege jaar gelede tydens ‘n waaghalsige inbraak by die nasionale museum in die hoofstad gesteel. Picasso het dit in 1949 persoonlik aan die galery geskenk nadat hy dit ‘n dekade tevore geskilder het ter ere van Griekeland se weerstand teen Nazi-Duitsland. Dit is uit die raam gesny tydens die rooftog, wat net ‘n paar minute geduur het.