Grens-kwessie kort aandag – Netumbo

Die Namibiese minister van internasionale betrekkinge Netumbo Nandi-Ndaitwah sê daar is wel kwessies by land se grens met Botswana wat aangespreek moet word. Sy het aan die einde van verlede week ‘n besoek aan die gebied by die Chobe-rivier in die Zambezi-streek met haar eweknie in Botswana, dr. Lemogang Kwape afgelê. Die twee het met gemeenskappe en tradisionele owerhede ontmoet. Kwape het bevestig dat ‘n volle ondersoek na die voorval in November verlede jaar waar vier Namibiërs doodgeskiet is, geloods is en beide ministers het ooreengekom dat sekuriteit en veiligheid by die grens, veral omdat gemeenskapslede in die rivier visvang, verskerp sal word. Die kwessie sal ook by die vergadering van die Binasionale-kommissie later vanjaar onder die loep kom maar, die omstrede grensverdrag van 2018, sal nie bespreek word nie.