Gigaba ontken hy het 200 pakke klere

In die buurland het die gewese minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, aan die staatskapingskommissie gesê sy vervreemde vrou, Norma Mngoma, is ‘n volslae leuenaar. Gigaba het in reaksie op haar vroeëre getuienis ontken dat hy ‘n weelderige leefstyl gehandhaaf het. Hy sê dit is ook ‘n leuen dat hy hegte bande met die Guptas gehad het. Gigaba ontken Mngoma se bewering dat hy meer as 200 pakke klere het en sê dit sou van hom ‘n klerewinkel gemaak het. Hy sê Mngoma is goed voorberei vir haar getuienis om sy aansien te skend, omdat sy bitter is oor hul hangende egskeiding.