Gesondheidsministerie het agterstand met oplaai van inentingsertifikate

Namibiese burgers is versoek om hul inentingsertifikate op die gesondheidsministerie se webtuiste af te laai, maar tot hul verbasing is hul inentingsertifikate nog nie deur die ministerie goedgekeur nie. Dit volg na chaos verlede week met lang rye reisigers en oponthoude by onder meer die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg nadat owerhede in Suid-Afrika benadruk het dat alle reisigers wat die land besoek se inentingsertifikate teen Covid-19 ‘n elektroniese QR-kode moet bevat wat die naspoorbaarheid daarvan bewys. Volgens berigte word die beperkte personeel verantwoordelik vir die hersiening en goedkeuring van hierdie sertifikate, gebombardeer met oproepe deur mense wat nie die regte prosedures volg nie. Dit veroorsaak glo dat daar ‘n agterstand is met die proses. Die ministerie se woordvoerder, Walters Kamaya sê aan Kosmos 94.1 nuus hulle is ten volle bewus van hierdie uitdaging en die publiek word dus gevra om geduldig te wees.