Geraamte van ‘n trikeratops kan N$20 miljoen op veiling behaal

Die geraamte van ‘n trikeratops van 66 miljoen jaar oud kan na verwagting minstens 20 miljoen Namibiese dollar haal wanneer dit op 21 Oktober in Parys, Frankryk, opgeveil word. Die geraamte wat Big John genoem word, se skedel is 2,62 meter lank en twee meter breed. Dit is in Mei 2014 in Suid-Dakota in Amerika gevind en ‘n jaar later uitgegrawe, waarna dit in Italië herstel is. Trikeratops-dinosourusse kon tot 5 500 kilogram weeg en nege meter lank word. Big John is agt meter lank en die grootste trikeratops-geraamte wat nóg gevind is.