Geingob sê Tutu het ook bygedra tot Namibië se vryheid

President Hage Geingob het sy medelye met die mense van Suid-Afrika uitgespreek na die afsterwe van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Geingob het hom beskryf as ‘n toegewyde vryheidsvegter. Tutu is Sondag in die ouderdom van 90 in Kaapstad dood. In sy boodskap het Geingob Tutu beskryf as ‘n man van sterk oortuiging en ‘n anti-apartheidsikoon wat vasgestaan het tydens die bevrydingstryd van beide Suid-Afrika en Namibië. Huldeblyke aan Tutu stroom in van regoor die wêreld en hy sal op Nuwejaarsdag in Kaapstad ter ruste gelê word. ‘n Routydperk is vir die buurland aangekondig wat van krag sal wees vanaf die formele aankondiging van die begrafnis tot die aand voor die begrafnisdiens. Die nasionale vlag sal regdeur die buurland en by Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings in die buiteland halfmas hang. President Cyril Ramaphosa het Tutu beskryf as Suid-Afrika se grootste patriot.