Geingob sê hy het omgewing geskep waar jeug kan floreer

Vandag word Internasionale Jeugdag herdenk. In ‘n verklaring sê President Hage Geingob dat dit sy regering se beleid is dat niemand in Namibië agter gelaat word nie. Hy sê die jeug vorm die groter meerderheid van die Namibiese bevolking uit en dat daar groot vordering vir hulle gemaak is deur middel van die ministerie van sport en jeug en die derde Jeugbeleid van 2021. Hy voeg by dat jongmense in die regering aangestel is en dat die grootste deel van die begroting aan die ontwikkeling van die jeug toegeken is. In sy mening het sy administrasie ‘n omgewing geskep waarin die jeug kan floreer. Maar, meer as helfte van jongmense is tans werkloos in Namibië en kenners meen die situasie sal nie vinnig verbeter nie omdat die ekonomie nie in staat is om werk te skep nie. Die formele sektor krimp ook en die informele sektor dra meer as 30 persent van die ekonomie by.