Geingob en groot afvaardiging besoek Botswana volgende week

Namibiese President Hage Geingob sal na Gaborone, Botswana, reis om op 8 en 9 September die eerste sitting van die Botswana-Namibië Bi-Nasionale Kommissie by te woon. Daar word van die Bi-Nasionale Kommissie verwag om samewerking op diplomatieke, regs-, ekonomiese en maatskaplike gebiede, asook verdediging en sekuriteit, te hersien. Na verwagting sal nuwe samewerkingsooreenkomste onderteken word. Die adjunk-premier Netumbo Nandi-Ndaitwah, die veiligheidsminister dr. Albert Kawana, die landbouminister Calle Schlettwein, die gesondheidsminister dr. Kalumbi Shangula, die handelsminister Lucia Iipumbu, die prokuruer-generaal advokaat Festus Mbandeka, en Hilma Nicanor, die adjunkminister van verdediging, sal Geingob vergesel. Die President word weer op 9 September terug in Namibië verwag.