Geingob betreur Keita se dood

President Hage Geingob het sy medelye betoon aan die familie van die voormalige president van Mali, Ibrahim Boubacar Keita. Keita is Sondag by sy huis in die hoofstad Bamako oorlede. Hy was 76. Geingob sê Keita was vir dekades ‘n persoonlike vriend. Keita is in 2020 deur die land se weermag uit die kussings gelig na sewe jaar in beheer. Hy het in 2013 president geword en terwyl hy aan bewind was, was daar baie etniese geweld en Islamitiese terreurgroepe het groot dele van die land oorgeneem. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.