Geen likwidasie vir TransNamib nie – Shiimi

Die Namibiese minister van finansies, Ipumbu Shiimi, sê daar is geen waarheid in gerigte dat TransNamib gelikwideer moet word, of sal word nie. Hy sê die maatskappy is die operateur van amper 2 700 kilometer se spoorlyn regoor die land wat ook verbind is aan Suid-Afrika en dat daar geleenthede is om die lyn verder in die SAOG-streek uit te brei. Die regering beskou TransNamib as die logistieke spilpunt wat die breër SAOG-streek verbind. Die regering het sedert 2019 daadwerklike stappe geneem om bestuur by die maatskappy te verbeter met bekwame amptenare wat aangestel is. Shiimi sê TransNamib word beskou as ‘n strategiese entiteit in die land en sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die maatskappy sy mandaat op ‘n kostedoeltreffende wyse nakom. Die maatskappy sukkel op die oomblik met ‘n tekort aan werkende lokomotiewe en ‘n trein het gister naby Kolmanskop sonder diesel gaan staan.