Gebrek aan polisievoertuie by Aminuis om veediefstal te takel

Boerderygemeenskappe van Aminuis in die Omaheke-streek is bekommerd oor veediefstal wat hand-uit ruk. Boere sê hulle verloor donkies en kleinvee, en meer as 50 diere is die afgelope twee maande gesteel. Boere het tydens ‘n gemeenskapsvergadering by Korridor 22 ‘n beroep op die Namibiese polisie gedoen om sy operasies teen veediewe in die gebied te verskerp. Volgens Nampol se bevelvoerder in die Omaheke-streek, kommissaris Andreas Haingura, kan die polisie nie alleen veediefstal suksesvol bekamp nie en is samewerking van die gemeenskap nodig. Hy het erken dat daar gebrek aan vervoer by al drie polisiestasies in die Aminuis-kiesafdeling is wat dit moeilik maak om veediefstal te bekamp.