!Gawaxab sê nog ‘n repokoersverhoging kan die maand kom

Johannes !Gawaxab, die goewerneur van die Bank van Namibië, het te kenne gegee dat nog ‘n repokoersverhoging hoogs waarskynlik is wanneer die bank se monetêrebeleidskomitee op 15 Junie vergader. Die verwagte derde rentekoersverhoging in ses maande sal daarop gemik wees om die land se wisselkoerskoppeling aan die Suid-Afrikaanse rand te beskerm en rentekoerse te begin normaliseer. Die repokoers is in Februarie met 25 basispunte verhoog, gevolg deur nog ‘n 25 basispuntverhoging in April. !Gawaxab meen die verhogings sal voortduur om kapitaaluitvloei te beperk. Op die oomblik is die repokoers op 4,25 persent en sommige ekonome voorspel ‘n groter verhoging, van tot 50 basispunte.