Gauteng-polisie skud 400 wapens in 4 weke
Die polisie in Gauteng sê hulle het oor ‘n tydperk van vier weke beslag gelê op meer as 400 onwettige vuurwapens en byna 6 000 koeëls. Hulle het ook sowat 230 verdagtes in die provinsie in hegtenis geneem weens besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die wapens wat teruggevind is, sal ballistiese toetse ondergaan om vas te stel of dit met ander ernstige misdade verbind kan word. Hy sê hulle sal voortgaan om beslag te lê op ongelisensieerde vuurwapens in ‘n doelgerigte poging om ernstige en geweldsmisdade in die provinsie hok te slaan.