Gabby Petito se ouers skik vir US$3m uit Laundrie-boedel

Die ouers van Gabby Petito, die 22-jarige reis-blogger wie se verdwyning en moord die wêreld geskok het, het ‘n skikking van 3 miljoen Amerikaanse dollar in die regsgeding wat hulle teen die boedel van haar verloofde, Brian Laundrie, aanhangig gemaak het, bereik. Petito het in Augustus verlede jaar verdwyn tydens ‘n reis met Laundrie, 23, nadat hulle ‘n groot deel van die vakansie op sosiale media gedokumenteer het. Haar lyk is op 19 September 2021 in die weste van Wyoming ontdek. Die oorsaak van dood is vasgestel as verwurging. Laundrie se familie het hom middel September as vermis aangemeld. Na weke se soektog het die owerhede sy liggaam in Oktober in ‘n wildernisgebied in Florida nie ver van sy huis af gevind nie. Hy het homself geskiet en in ‘n notaboek Petito se moord erken.