G7-leiers veroordeel Russiese aanval op inkopiesentrum

Die leiers van die G7-groep van rykste lande het die aanval op ‘n winkelsentrum in die Oekraïnse stad Kremenchuk as verfoeilik beskryf. Minstens 16 mense is dood en meer as 50 beseer toe ‘n Russiese missiel die sentrum getref het. Na raming was sowat ‘n duisend burgerlikes tydens die aanval in die winkels. Die G7-leiers sê die aanvalle wat voor die voet op burgerlikes uitgevoer word, kom neer op ‘n oorlogsmisdaad. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, beskryf die aanval as een van die brutaalste terroriste-aanvalle in die Europese geskiedenis.