Finse premier vies oor haar partytjievideo’s versprei is

Nadat video’s aan die media uitgelek, het die eerste minister van Finland, Sanna Marin, erken dat sy ‘n luiddrugtige partytjie gehou het. Die 36-jarige Marin, een van die jongste premiers in die wêreld, is behoorlik die josie in dat die video’s oor haar gedrag versprei is. Die beeldmateriaal het veroorsaak dat sommige van Marin se opponente haar gedrag as onbetaamlik bestempel het. Marin erken dat alkohol gebruik is, maar ontken dat enige dwelms betrokke was. Sy sê sy het nog nooit in haar lewe dwelms gebruik nie en het intussen ‘n dwelmtoets ondergaan.