Families van MH370-slagoffers vra hernude soektog

Die families van diegene wat aan boord van die Malaysia Airlines-vlug 370 omgekom het, doen ‘n beroep op die Maleisiese regering om die Amerikaanse seebodem-eksplorasiefirma Ocean Infinity toe te laat om ‘n nuwe soektog na die vermiste vliegtuig te begin. Die vliegtuig, met 12 Maleisiese bemanningslede en 227 passasiers van 14 verskillende nasies aan boord, het in 2014 op pad van Kuala Lumpur na Beijing verdwyn. In 2018 het Maleisië Ocean Infinity betrek om na die vliegtuig in die suidelike Indiese Oseaan te soek, en aangebied om miljoene te betaal indien hulle die vliegtuig sou vind. Maar die soektog het niks opgelewer nie.