Europese rugby-wedstryde uitgestel

Die naweek se Europese Kampioene-beker en Uitdaag-beker-wedstryde tussen klubs van die Verenigde Koninkryk en Frankryk is uitgestel, weens streng Covid-19-reis-regulasies. Organiseerders sê die stap is gedoen weens nuwe reis-bepalings tussen die lande, wat deur die Franse regering ingestel is. Frankryk het aangekondig dat hy nie-noodsaaklike reise tussen Frankryk en die VK gaan verbied in ‘n poging om die verspreiding van die Omikron-variant te probeer keer. Sewe wedstryde in die twee Europese kompetisies is uitgestel, terwyl al die ander soos geskeduleer gespeel sal word.