Europe: Hongerstene ontbloot in Elbe

Hongerstene steek weer hul koppe uit in die Elbe-rivier waar dit deur die Tsjeggiese Republiek vloei. Die stene is ‘n soort hidrologiese landmerk wat algemeen in Sentraal-Europa voorkom. Hulle dien as gedenktekens en waarskuwings vir hongersnood en is in die 15de tot 19de eeue in Duitsland en in etniese Duitse nedersettings regoor Europa opgerig. Hulle word tydens droogtes in die droë rivierbeddings geplaas met ‘as jy my sien, huil’ daarop uitgekrap. Baie van hierdie klippe is opgerig ná die hongersnood van 1816 en 1817 wat deur die uitbarsting van die Tambora-vulkaan veroorsaak is. In 1918 is een in die Elbe ontbloot tydens die hongersnood van die Eerste Wêreldoorlog. Hulle word nou weer in die rivier gewaar met die erge droogte in Europa.